📖 – Romeine 14:17 – “Die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees.”
💡- Die Gees versterk ’n heilige trio in ons: geregtigheid wat regmaak, vrede wat stilmaak, en vreugde wat lig maak.
Vreugde is soos sonlig wat deur dreigende donderwolke breek – onverwags, maar onweerstaanbaar. Vreugde is nie selfgemaak nie; sien dit eerder as die aantrekkingskrag van die Heilige Gees wat jou in Sy kragveld intrek. Daar waar die Gees werksaam is, kom heelheid tussen God en mense en hul naaste.
Soos ’n driehoek wat net stabiel staan wanneer al drie bene sterk is, so word God se koninkryk vir die wêreld sigbaar wanneer geregtigheid, vrede en blydskap in harmonie leef. Soos Jesus self beveel: “Laat julle lig helder in hierdie donker wêreld skyn, want die Here kan enige oomblik terugkom” (Luk 12:35. Die Boodskap). Hoe? Deur die soeke na wat reg is; na wat heel maak, en wat vreugde bring.
🪜- Doen vandag eerlik selfondersoek: leef geregtigheid, vrede en blydskap saam in jou lewe as ‘n eenheid?
🙏 Heilige Gees, plant U heilige trio diep in my: geregtigheid wat my rig, vrede wat my rus gee, en vreugde wat my lig.

