📖 — Jesaja 12:3 – “Met vreugde sal julle water skep uit die fonteine van redding.”
💡- Vreugde bied nie net innerlike vertroosting nie; dit is ook ’n openbare getuienis wat die hoop en sekerheid van Christus aan ’n wagtende wêreld demonstreer.
Lewensvreugde is aansteeklik. Dit is soos ‘n skeppie water wat ‘n dorstige ontvang. Een van Christene se kragtigste getuienis lê juis in die vreugde waarmee hulle leef. Diegene wat nog nie die Vrede en Hoop van Christus ken nie kan sien wanneer daar “iets” is in mense wat nie deur die wêreld se chaos oorweldig word nie.
Jou vermoë om God se vreugde te behou terwyl die lewe om jou woel, is een van die duidelikste demonstrasies van die krag van die Evangelie. Jesus beloof juis dat strome van lewende water uit die gelowige sal vloei (in Johannes 7:38). Die Lewende Water wat jou voed word die fontein waaruit ander weer kan drink.
🪜- Formuleer vir jouself hoe God se hoop, vrede en vreugde jou deur die afgelope week gehelp het (sonder om “prekerig” te wees). Dalk kan dit vandag met iemand gedeel word.
🙏 My Here, gebruik die vrede en hoop wat U aan my gee as ’n getuienis, sodat ander saam daardeur uit U fonteine van redding kan drink.

