Die Bybel is ‘n “dink terug en onthou”-boek. Dit is ‘n “dink terug en vertrou”-boek. Søren Kierkegaard, die Deense filosoof, het juis gesê, “Die lewe kan slegs agteruit verstaan word; maar dit moet vorentoe geleef word.” Hoe sal ons ooit die waagmoed van vertroue kan ontdek as ons dit nie eerstehands ervaar het nie?
Ons probleem is dat ons so maklik vergeet.
Dit het my laat dink aan die belofte wat God vir Noag gegee het dat daar, na groot vloede, altyd ‘n reënboog sal skyn. (Lees Gen 9.) Dit was ‘n teken vir Noag om God se belofte nie te vergeet nie, maar belangriker nog, dit is ‘n herinnering vir God self: “Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde” (9:16). Hemel en aarde sal onthou! Al vergeet Noag, God sal God se eie beloftes nie kan vergeet nie.
Ja, daar is soms dreigende onweerswolke wat in ons lewens saampak. Soms slaan bekommernisse soos vreesaanjaende blitse rondom ons. Soms stuur die lewe ‘n “Orkaan Helena” deur ons lewens wat vernietiging en ontwrigting as ‘n spoor agterlaat, en ons die stukke moet optel en weer van vooraf moet begin. Maar, van een ding kan ons seker wees, geen storm het die oormag om die veelkleurigheid van die reënboog te keer nie. Dit is hoe hoop ook werk!
Met my hele hart glo ek dat God nie God se eie beloftes aan ons kan vergeet nie. Ek weet wel dat ek dit kan vergeet. En daarom is ek dankbaar dat God sigbare tekens gebruik om ons daaraan te herinner. Elkeen van ons het in ons lewenstories sulke onthou-bakens van hoop. Solank ons hulle net nie onder die stof laat lê tot ons hulle later vergeet nie!
GEBED: HERE, gee dat ek elke reënboog in my lewe sal sien as ‘n herinnering aan U ewige verbond.
KUNS: Noag en die Reënboog, Marc Chagall 1966.
MUSIEK:
Ons luister na “In Die Hemel Is Die Heer” deur Louis Brittz en Jaconell Mouton.
Liriek:
Sien die Lam op die troon
Die dag van die bruid
Die dag van die Bruidegom
In die hemel is die Heer
En Sy glans is soos kristal
Hy’s die Heilige van God
En Hy heers oor die heelal, daar is mag
In Sy Woord, soos die waters druis Sy stem
Soos die son op die see se blou
So die rykdom van Sy trou
En aan U is die mag
En die heerlikheid en krag
En aan U is die eer
En die lof want U regeer
U regeer
Miljoene in gereedheid
Staan die engele om Sy troon
Verbysterend Sy sieraad
En die weelde van Sy kroon
Daar is mag in Sy Woord
Soos die waters druis Sy stem
Soos die son op die see se blou
So die rykdom van Sy trou
En aan U is die mag
En die heerlikheid en krag
En aan U is die eer
En die lof want U regeer