Onlangs was ek in ‘n gesprek betrokke waar wyduiteenlopende standpunte gelug is oor die heersende oorloë. Wat ons ten einde laas moes erken, is dat wêreldse vrede (of die afwesigheid van oorlog) deur die eeue nog altyd van korte duur was. Ons verlang almal na wêreldse vrede, want as ons eerlik is, is dit bloot om sorgeloos met ons lewens te kan voortgaan. Maar as ons mooi daaroor nadink, het oorlog altyd met een of ander onreg te make. Geen gelowige kan gemaklik met vrede saamleef as daar êrens ‘n vorm van onreg is waarteen ons moet opstaan nie. Om vredemakers genoem te word, is terselfdertyd om op te staan vir God se reg en geregtigheid (aldus Matt 5:9).
Die Suid-Amerikaanse teoloog, Jon Sobrino, het eenmaal geskryf: “Die vrede wat Jesus bring, is nie ‘n kalmeermiddel vir ons angste nie; dit is die moed om die onregverdighede en pyn van die wêreld met hoop te konfronteer.” Die een wat langs die lydende medemens gaan staan en sê, “ek los jou nie alleen nie”, dáárdie mens hou vir iemand anders die vlam van hoop brandend.
Die buitengewone van die belofte wat Jesus oor vrede maak wanneer Hy sê, “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle” (Joh 14:27a), is dat hierdie vrede niks met wêreldpolitiek te make het nie. Ja, daar is baie dinge wat ons kan ontstel of selfs beangs laat (aldus v27b), en juis daarom sê Jesus dat dit ‘n anderse soort vrede is. Dit is ‘n vrede wat by vertroue in God begin. Soos die Psalmdigter skryf: “Vertrou op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort” (Ps 37:3).
Dit is ‘n eenvoudige geloofsbeginsel: vertrou God + soek God se wil en dit sal jou die vrede gee “wat alle verstand te bowe gaan” (aldus Fil 4:6-7).
GEBED: Wanneer ek bid vir wêreldvrede weet ek dat dit met U en met U alleen te make het, want net U is die Vors van vrede.
KUNS: Prins van Vrede is ‘n skildery deur Yongsung Kim
MUSIEK:
Die Koor van Trinity College Cambridge sing Psalm 37 (verse 1-10) as die oorspronklike gesang deur Edgar Frederick Day (1891-1983).