Iemand het eenmaal gesê, “A text without a context is a pretext .” As jy nie die konteks van ‘n teks (veral ‘n antieke teks) in ag neem nie, maak jy eintlik daarvan jou selfgeskrewe teks.
Neem Jeremia 29:11 as ‘n voorbeeld. Ek was 17 jaar oud, reeds maande lank in die hospitaal na ‘n ongeluk, toe Ou-dominee Dirk vir my die belofte gelees het. Dit is vir my bedoel, het hy gesê, terwyl hy lees: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” In jeugdige naïwiteit het ek die “julle” doodgetrek en my naam geskryf.
Maar, “A text without a context is a pretext.”
Eintlik is Jer 29:11 ‘n reeds-vervulde belofte. God belowe dat die volk in ballingskap sal terugkeer Jerusalem toe. (Kyk v10). Sewentig jaar later het hulle toe teruggekeer – net soos God beloof het. Die ironie is, voeg 70 jaar nou by jou ouderdom, dan het jy waarskynlik nie meer geleef nie, net jou kinders. En dit is presies waaroor die belofte gaan. God sou weer begin. Al sou die volk God se oordeel oor hul afvalligheid verdien, sal God genadig wees.
Hierdie belofte beloof allermins ‘n seepgladde lewe soos ons sou verkies. Slegte dinge gebeur. Selfs met goeie mense. Tog weet ek vandag ek kan steeds my naam daarby skryf. Jy ook. Omdat soveel ander tekste soortgelyke beloftes maak:
• “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom 8:18).
• “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor 4:17).
Soms kyk ons vas teen vandag en vergeet ons van God se môre.
GEBED: Dankie dat U ook vir my ‘n verwagting het – ‘n toekoms by U.
KUNS: Marta Maria se Profeet
MUSIEK:
Die Koor van die Wells-katedraal, Somerset, onder leiding van Matthew Owens, voer Howard Goodall se toonsetting van Psalm 23, ‘Die Here is my herder’, uit.