BELOFTES #16

In die ou rabbynse geskrifte is daar ‘n legende oor Josef, die seun van Jakob wat aangestel was as die hoof van Farao se groot graanskure in Egipte (Gen 41). Tydens die sewe jare van oorvloed – so lui die legende – het Josef die kaf van die koring laat skei; al die blare-afval is in die Nyl gegooi en het weggedryf. Die omliggende volkere wat deur die Nyl gevoed was, het tydens die droogte die kaf sien dryf, en so het hulle geweet dat daar kos in Egipte was. Die boodskap het hulle bereik! Die les van die legende? Hierdie skoonmaak-proses van Josef – om kaf van koring te skei – illustreer die belangrikheid daarvan om dinge te laat gaan, tot voordeel van die mense om jou. Uit die oue kom die nuwe.

Hierdie legende het die ou rabbi’s vertel wanneer hulle die volk herinner het aan die belofte van God in Jesaja 43:18-19: “Moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” Ek is nie seker of die rabbi’s noodwendig reg was om Josef se legende met die belofte van Jesaja te verbind nie (maar môre, #17, meer daaroor). Tog is daar vir my iets moois om te leer uit die legende van Josef: wanneer die Heilige Gees ons lewens stroop (m.a.w. die “kaf van die koring skei”), is dit altyd ook tot voordeel van die mense rondom my.  Ander mense baat daarby wanneer God in my lewe vernuwing bring.

Hoe weet ons watter mense dalk almal voordeel trek uit die skoonmaak-proses waarmee God in ons lewe – daagliks – besig is?

GEBED: “Skud my soos koring skoon, Here; skei die oue van die nuwe, tot voordeel ook van ander!

KUNS:   Julius Sergius von Klever “Christus loop op water”

MUSIEK:

Ons kyk na die liriekvideo van “You’re Gonna Be Okay”  deur Brian en Jenn Johnson.