Sommige mense beskou God as ‘n waarnemer van ons lewens. God hou ons dop, ja, maar dit is vir baie mense eerder ‘n vreesaanjaende gedagte as ‘n troos. Die vraag wat elke mens een of ander tyd self moet antwoord, is: “Waar is God in al hierdie chaos om ons?” Soos Dawid (in Psalm 22:1) roep ons ook soms ten hemele: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Party mense sê ons leef in die “era van eensaamheid”. Die internet het dit vir ons moontlik gemaak om met vreemdelinge te kuier sonder dat jy ooit uit jou huis hoef te gaan. Gesigloses word jou vriende. YouTube en Facebook word jou kuierplek. Ons hoë heinings hou die skelms dalk uit, maar dit hou mense ook weg van mekaar. Ons vertrou niemand meer nie. Ons leef alleen-lewes. Dit is seker vanselfsprekend dat mense wat leef in die “era van angstigheid” (sien #12-13) én in die “era van eensaamheid” vrae oor God begin vra. Ons voel God-verlate.
Dit is toe dat ek weer Deuteronomium 33 gaan lees. Dit is Moses se heel laaste gesprek met sy volksgenote. Die beloofde land lê uiteindelik voor hulle. Maar, dan lig Moses, hul leier, hul in dat hy nie verder saam gaan nie. Wat nou! Het God hulle tot hier gebring, net om hulle nou alleen aan hulself oor te laat? Leierloos. God-verlate. Nee, sê Moses, “Daar is niemand soos God nie, Hy ry deur die hemel om jou te kom help, in sy majesteit ry Hy op die wolke. Die ewige God is ‘n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.”
C.S. Lewis het eenmaal gesê: “Ons kan Hom ignoreer, maar ons kan nêrens SY teenwoordigheid ontvlug nie. Die wêreld is vol van God.” Ons leef met God se arms om ons. Dit is my troos.
GEBED: In my bangheid en in my alleenheid hou ek aan hierdie belofte vas, my HERE: Ek is in U arms.
KUNS: “Jesus as Herder” deur Melani Pyke
MUSIEK:
Ons kyk na ’n video van Moses Hogan se “Abide with Me” deur die Indiana University Jacobs School of Music Contemporary Vocal Ensemble.