BELOFTES #11

Onlangs sit ‘n vrou by my en gesels-kla oor haar lewe. Letterlik niks draai vir haar reg uit nie, vertel sy. “Daar is soveel beloftes in die Bybel dat God ons gebede sal beantwoord”, gesels sy. “Maar, ek vra en vra en vra, en niks verander nie.”  Sy is besig om haar geloof in God te verloor, gaan sy voort: “Of ek glo nie reg nie, of God is net ‘n lugspieëling.” Nog voor ek kan vra wat “reg glo” beteken, haal sy Psalm 37:4 aan. “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” “My vreugde is in die Here, en Hy gee my beslis nie wat my hart begeer nie”, sluit sy af.  

Ek wonder waar kom hierdie teologie vandaan dat dit met ons goed moet gaan as ons gelowiges is. Dawid se lewe was allesbehalwe rooskleurig terwyl hy die Psalm geskryf het! Wat Dawid wel geweet het, is dat God nie wegkyk nie. God is by hom. Daar is geen groter vreugde as dit nie! “In ons lewe moet ons leer om te leef met die spanning tussen wat ons hoop en dit wat ons elke dag ervaar. Dit is presies in hierdie spanning dat ons die diepte van ons geloof ontdek”, het Henri Nouwen eenmaal gesê.

Ons verwagtinge van God (en veral wat God vir ons moet gee of doen) pootjie ons soms. Somtyds is dit juis deur lyding en swaarkry, teleurstellings en daardie dinge wat – op sigwaarde – nie reg uitdraai nie, dat ons die ware diepte van God se liefde en genade begin verstaan.

Psalm 37:4 is ‘n mooi belofte! Vind jou vreugde in die Here! Dan sal jy ontdek dat niks méér saakmaak nie. Maak dit jou hartsbegeerte.

GEBED: Mag niks wat ek nodig het belangriker word as dat ek U alleen nodig het nie, my HERE.

KUNS:  God’s Care deur Del Parson

MUSIEK:

Ons luister na  “Come Unto Him” van die Messiah deur George Frideric Handel.  

Adele Addison, soprano,  New York Philharmonic Orchestra, Leonard Bernstein, conductor.