“U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” (Ps 18:29-30)
*****
Ons spring verby ‘n klompie psalms (omdat hulle in 2 vorige Al Psalmend-reekse reeds bespreek is) en vandag kom die langste psalm van die eerste Psalmboek (Ps 3 – 41) aan die beurt. Dit is ‘n ideale psalm vir ‘n blou Maandag. Op daardie dae wat alles skeefloop (en ek praat nou nie van ‘n wasmasjien wat breek nie; ek praat van iets groots – soos die aandelebeurs wat inmekaar tuimel), juis dan herinner Dawid homself daaraan dat God veel-veel groter is! Dawid gebruik natuurbeelde in die oortreffende trap – vulkaanuitbarstings, aardbewings, donderstorms – om aan te toon dat niks só erg kan wees dat God hom nie kan red nie. “God omgord my met krag”, verklaar Dawid (v38, 40). God maak hom vlugvoetig, soos ‘n ribbok wat op hoë bergpunte uittroon. So kan Dawid bo uitkom. Geen muur is te hoog om te bestyg nie (v30). God gee aan Dawid, op so ‘n chaotiese dag, “ruim vastrapplek (sodat sy) enkels nie swik nie” (v37).
Dit is ‘n psalm vol hiperbole, soos ons soms oor ons blou Maandae ook voel. Maar dan herinner hy homself daaraan: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting” (v3). Die sterk God is sy sterkte! Wat kan só erg verkeerd gaan, dat God se lig nie die donkerte sal verdryf nie?
Soms het ons die taal van oordrywing nodig om ons te herinner aan wie God vir ons wil wees!
GEBED: Ek is veilig, my Here, veilig in U veiligste ruimtes: U hand omvou my.
MUSIEK:
Ons kyk na die liriekvideo van Psalm 18 “He Delights in Me” as deel van die bekende The Psalms Project deur Shane Heilman.