“Ja, U oorlaai hom vir altyd met seëninge. U maak hom baie bly met u teenwoordigheid.” (Ps 21:7)
*****
Min volksliedere is vir my so mooi soos ons eie. Hoeveel ander ken jy wat ‘n gebed is? Ons verklaar nie ons grootsheid voor ander volkere nie; ons verklaar ons versugting voor God: “Nkosi Sikelel’.” Here, seën ons tog. Seën ons leiers. Seën ons mense. Seën ons kontinent. Sonder U kan ons nie!
Die “Koningspsalms” (waarvan Psalms 20 en 21 ‘n voorbeeld is) was gebede wat die volk gesing het by die troonbestyging van die koning. Sewe keer in Psalm 20 volg die woorde, “Mag die HERE …” Ses van dié versugtinge (Ps 20:1-6) gaan alles oor een ding: mag die HERE die koning se gebede aanhoor. Die sewende versugting gaan oor die volk se begeerte: “Mag die HERE ons antwoord op die dag wanneer ons roep” (v10). Psalm 21 gaan voort en getuig dan verder van God se getrouheid: “Wat sy hart begeer, het U vir hom gegee en wat sy lippe verlang, het U hom nie geweier nie. Ja, U tree hom tegemoet met goeie seëninge” (Ps 21:3-4).
Jahweh, ons HERE is ‘n getroue HERE. Ons vyande moet bewe, God is in beheer.
Vir my is die Koningspsalms soos die voorafmusiek wat die Grande Finale aankondig. Die Koningspsalms is ‘n lusmaker – die dromme begin dreun; die afwagting groei; almal staan op. Soos die son wat verrys, so bestyg die Koning der konings, Heerser der heersers, Sy heilige troon: “hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom” (Ef 1:21).
Jahweh, ons HERE is ‘n getroue HERE. Die vyand moet bewe, God is in beheer.
GEBED: U heerskappy sal uitbrei, en U sal vir altyd vrede en voorspoed bring (Jes 9:6).
MUSIEK:
Ons luister na Poor Bishop Hooper se Psalm 21-verwerking.