Al Psalmend 3 ( 5 Nov )

“As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.” (Ps 3:6)

*****

Die psalms is geskryf deur mense wat die lewe se pyn aan hul eie vel voel sny het. Hoe swaar moes dit nie wees om – as pa – voor jou eie seun te moet vlug nie. Dit is waaroor Dawid in Psalm 3 skryf. Hoor net sy wanhopige uitroep: “Ek het so baie vyande, Here!” (Vers 2).

Tog doen Dawid iets waaruit ek beslis kan leer: in plaas daarvan om op sy probleme te fokus, draai hy sy fokus op God. Dit neem hom twee verse om sy lot te bekla; maar dit neem hom ses verse om God se werke te beskryf: die Een wat hom van alle kante beskerm (v4); die Een wat luister na sy hulpgeroep (v5); die Een wat sorg (v5). Met groot vertroue bely hy: “Hulp kom net van die Here af” (v9).

God was nie vir Dawid net ‘n “mooi gedagte” nie; God was ‘n realiteit. God was die reddingsboei waaraan hy kon vashou. Uit haar eie lewe skryf die teoloog en Lutheraanse Pastor, Nadia Bolz-Weber: “God is nie ‘n veraf godheid nie, maar  ‘n liefdevolle teenwoordigheid wat ons in ons gebrokenheid ontmoet en ons deur ons stryd dra. Dit is in hierdie verhouding dat ons ons veiligheid en krag vind.” Soos Barbara Brown Taylor ook geskryf het: “Die belofte van God is nie dat ons nooit moeilike tye sal ondervind nie, maar dat ons hulle nooit alleen sal ondervind nie.”

Dawid kon saans sy bekommernisse voor God se voete neerlê en nie verder daaroor tob nie. Rondrol was vir hom onnodig omdat hy homself in die veilige vangnet van God se liefde bevind het.

Hoe kon Dawid dit regkry? Hy het God vertrou. Net dit.

GEBED: My nagte van rondrol gee ek in U hande, want ook ek vertrou op U, my Here.

MUSIEK:

Ons luister na  Psalm 3 as ’n Duits-Ortodokse gesang.