#4 BELOFTES

Vir my is ‘n veel mooier uitdrukking as “ek belowe” deur te sê, “ek gee jou my woord.” Nou is dit nie sommer net “praatjies-maak” nie, dis jou “woord-van-eer”.  In Hebreeus is die woordjie “dabar” (of “dawar”) dieselfde stamwoord vir praat en sê, ook vir woorde en beloftes. Wanneer God praat is dit God se gebod. Daarom is die korrekte vertaling van die “Tien GEBOOIE van God” dus eintlik die “Tien WOORDE van God.”)  So standvastig soos God self is, so standvastig is God se woorde.

“Dabar” kan ook vertaal word met “iets wat is.” Net deur te PRAAT het God die skepping  (“IETS”) geskep. So seker soos wat jy die skepping kan sien, so seker kan jy van God se woorde wees.  Dit is hoe betroubaar God is! 

Hier is nou ‘n belangrike ding om te onthou: God se “dabar” is nie net beloftes nie; God ís “dabar.” So leer Moses God in die brandende braambos ken: “Ek is wat Ek is”, sê God (Eks 3:14). JHWH = Ek is.  Met ander woorde, uit al God se beloftes (woorde) en gebooie (opdragte) leer ken ons vir God. Moses kry opdragte om na die Farao te gaan, maar hy kry ook die belofte: “Ek – JHWH – sal by jou wees “ (v12).

Wanneer Josua vir Moses opvolg as leier, kry beide die volk en Josua ook die opdragte en beloftes: “Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie…  die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie” (Deut 31:6).  

Dit is wat jy vandag kan weet: God kan nie ophou wees wie God is nie: betroubaar; teenwoordig; beskermer. Ons hou nie vas aan die leë beloftes en hol woorde van swendelaars en politieke leiers nie. Ons hoop is nie op hulle nie. Ons hoop is op God. Want God ís sy beloftes.

GEBED:  U is wie U is, daaraan hou ek vas, my HERE.

MUSIEK:  

Ons kyk na die liriekvideo van “Ik zal er zijn” deur die Nederlandse groep Sela. Die liriek wys op die video.