‘n Student het eenmaal aan die teologieprofessor gevra, “hoeveel beloftes is daar in die Bybel?” Waarop die professor antwoord, “Een vir elke dag.” Die student glimlag instemmend, “Dus, 365?” “Nee”, antwoord die geleerde, “een vir elke dag vir die res van jou lewe.”
Dalk kan ons dit anders ook stel: daar is een belofte, maar, die enkele belofte is geldig vir elke dag van jou lewe, tot in lengte van dae. En, as ek jou vir ‘n oomblik kans kon gee om self te dink wat hierdie enkele belofte is, wat sou jy sê is dit?
Net weer – dit is veel meer as ‘n belofte. Dawid noem dit ‘n toesegging (sien #2 – 2 Sam 7:1). Dit is ‘n gedagte wat oor en oor deur Jesus gebruik word wanneer Hy sê, “Dit verseker Ek julle…” Dit is só seker dat Jesus net sowel kon sê, “Vir seker verseker Ek julle!” Daar is geen twyfel daaraan nie. Daarom kon Charles Spurgeon sê dat wanneer God ‘n belofte maak, is dit soos om met ‘n bankgewaarborgde tjek in jou hand te staan. Jy wonder nie. Jy wéét.
Soos daardie enkele stukkie getekende papier die hele bedrag daarop verteenwoordig, so is daar ‘n enkele woord wat al die beloftes verteenwoordig: Immanuel. God met ons. Dit was die belofte in die Ou Testament: die Messias sal kom. Dit was die Engel se aankondiging met Sy geboorte. Dit was ook Jesus se laaste woorde aan sy dissipels: “En onthou (weet verseker): Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20).
Dit is nie net God by ons nie. Dit is God ín ons. “Nader aan my as ek aan myself”, het Augustinus van Hippo geleer. Dit is ons Godgeïnspireerde toesegging: “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit” (Ps 139:5).
GEBED: En soos Dawid sê ek ook: “Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip” (Ps 139:6).
KUNS: “The Baptism of Christ” deur Piero della Francesca
MUSIEK:
Ons kyk na die liriekvideo van “Where Can I Go – Psalm 139” deur Ellie Holcomb. Die teks verskyn op die video.