40 DAE VAN OORWINNING
#17 – 9 MRT
>
OORWINNING OOR GEBREK AAN SELFBEHEERSING
“’n Mens sonder selfbeheersing is soos ’n stad waarvan die mure afgebreek is .” – Spreuke 25:28
Gebrek aan selfbeheersing laat ons dikwels uitgelewer voel aan ons eie impulse, emosies en tydelike luste. Sonder innerlike dissipline word ons lewens soos ’n stad sonder mure; enige indringer kan sommer net inloop en verwoesting saai. Ons dink dikwels dat vryheid beteken om te doen net wat ons wil, wanneer ons wil, maar sonder selfbeheersing word ons eintlik net slawe van ons eie begeertes.
Jesus wys vir ons die uiterste vorm van selfbeheersing tydens Lydenstyd. In die tuin van Getsemane en voor Sy aanklaers, kies Hy om Sy emosies en Sy krag onder die wil van die Vader te bring. Hy reageer nie uit impulse nie, maar uit roeping. Oorwinning oor ’n gebrek aan selfbeheersing begin wanneer jy besef dat “nee” sê vir jouself dikwels “ja” sê vir God beteken. Dit gaan nie oor selfstraf nie, maar oor die herbou van jou mure sodat jy in ware vryheid en integriteit kan leef.
GEBED:
> Here, voor ek my kom kry het ek alweer beheer verloor oor my woorde, my tyd en my begeertes.
> Help my om deur U Gees die mure van selfbeheersing in my lewe te herbou.
> Leer my om my impulse te onderwerp aan U volmaakte wil en plan.
> Gee my die krag om “nee” te sê vir dit wat my van U af wegtrek.
> Dankie dat U my lei na ’n lewe van vryheid en ware dissipline. Amen.

