#1 BELOFTE

Die Nederlandse teoloog, Herman Bavinck, het eenmaal gesê: “‘n Godsdiens wat nie kan troos in rou en smart, in lewe en dood nie, kan nie die ware godsdiens wees nie.”

Niks is so betekenisloos soos goedkoop troos nie, en niks is so troosloos soos leë beloftes nie. Ons sê maklik, “beloftes maak skuld” – jy het ‘n verantwoordelikheid om aan jou woord getrou te bly. Maar dit is seker nie verniet nie dat die idioom ook verder gaan: “…Wie daarop wag, voel gekuld.” Hoeveel keer moet ons nie op ons spore terugstap en verskoning vra nie, ten spyte van  al ons goeie voornemens.

Die kerkhervormers het destyds, tydens die skeur met die Katolieke kerk, baie klem gelê op die Latynse woordjie “promissio”. (Jy sien dadelik waar die Engelse woord “promise” vandaan kom.) In Latyn beteken “promissio” om iets vorentoe aan te gee. Dit is soos om ‘n voorsmaak te kry van die hoofdis. Johannes Calvyn het gesê God se “promissio” het alles met genade te make. Elkeen van God se beloftes aan ons is ‘n uitdrukking van God se genade. ‘n Tydgenoot van Calvyn, Edward Leigh, het dit so gestel: “God se beloftes is die rede waarom ons kan hoop, dit is die fokus van ons geloof en dit is die inhoud van ons gebede.” Soos ons sing, “Alles, alles, is genade. Onverdiende guns alleen.” Dit is die pilare vir God se beloftes aan ons.

Smag jy na werklike troos? Troos wat in lewe en in dood, in rou en in smart,  hoop bied? Daar is net een plek vir sulke troos – jy leer ken dit by God. Soos Petrus kon sê: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak” (1 Pet 5:10).

GEBED: Dankie dat U vandag reeds U genade vir my vorentoe aangee.

KUNS:

MUSIEK: Ons kyk na  ’n musiek-video van “God ek het U Nodig” deur die Nederlandse=groepSoli Deo Gloria Urk.