Dit is regtig nie so maklik om oor die beloftes in die Bybel te skryf soos wat ek en jy dalk graag sou wou dink nie. Die meeste van die beloftes in die Bybel is nie aan individue gemaak nie, maar aan ‘n volk – alhoewel ek graag glo dat dit vir my spesifiek (of jou) bedoel is. Die meeste van die beloftes is gemaak binne ‘n spesifieke konteks, terwyl ons konteks wêrelde daarvan verskil. Soms maak ons tematiese lysies van die beloftes en, soos ons behoeftes mag wissel, gaan slaan ons die beloftes na, sonder om te sien dat baie beloftes voorwaardelik was. Maar, hoe kan ons tog ooit dink dat ons die voorwaardes sal kan nakom? Ons weet ons kan nie!
Waar moet ons dan begin? Dalk verstaan jy dadelik wat ek bedoel as ek sê dat die beloftes van God eintlik niks met ons te make het nie, maar alles met wie God is. Dawid het dit verstaan! Nadat die profeet Natan vir Dawid die versekering van God se sorg gebring het, het Dawid homself afgesonder om tot God te bid. Dit is wat hy gesê het: “Wie is ek, Here my God … (dat U) … ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak het. Wat ‘n toesegging aan ‘n mens, Here my God!” (2 Sam 7:18-19).
Dat God Godself aan ‘n méns verbind (toesê) is eintlik verregaande. Moet dit nie andersom wees nie? Moet dit nie óns wees wat voor God buig om onsself aan God te bied nie? Nou is dit andersom. Wie is hierdie God!
Die woord “belofte” is dalk in ons woordeskat te vaag; eintlik moet ons eerder praat van ‘n “vaste versekering”. ‘n Onwankelbare verbintenis: alles van God word joune.
Dit is werklik bo menslike begrip!
GEBED: Wie is ek tog om vandag ook U blye versekering toegesê te word, Here my God?!
KUNS: “Christus en die ryk jong Heerser” deur Heinrich Hofmann
MUSIEK:
Ons luister na Sonja Herholdt se 1994 opname van “Blye Versekering”.