GEESKRAGTIG
3 – LIGDRAER (3 Junie)
🏋️ Geeskrag: Die Gees is God se Lig wat deur onweerswolke breek.
Ons is getraumatiseerde mense. In ons binneste eggo die ontploffings in Gaza en Libanon. Ons skeur ons klere saam met elke ma en pa wat ‘n kind moet begrawe. Dit raak alles te veel! Maar dan kom die woorde: die Gees bring lig wat nie deur duisternis oorweldig kan word nie. Soos Paulus skryf: “God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte ‘n lig laat skyn … wat van Jesus Christus uitstraal.” (2 Korintiërs 4:6). Die Gees is soos ’n helder ligstraal wat deur ’n stormwolk breek – jy kan net in verwondering daarna staar! Waarom dan nie ook in al ons traumas en onsekerhede opkyk en die ligstraal raaksien nie?! Waar jy dalk vandag net donkerte sien, presies daar is die Lig van die Gees om jou pad te begelei as jy jou oë daarvoor oopmaak.
👏 Heilige Gees, help my om nie net met my oë altyd af te kyk en net die donker raak te sien nie. Lig my kop vir my, sodat ek deur U lig begelei kan word deur die lewe.
🕰️ AS JY MEER TYD HET:
• Lees : Johannes 1:1–14; 2 Korintiërs 4:1–7; Efesiërs 5:8–14.
Die Gees se lig is nie net ’n troos nie, dit is ook ons roeping. Efesiërs 5 sê: “Julle was vroeër duisternis, maar nou is julle lig in die Here. Leef dan as kinders van die lig.” Wat jy ontvang, word jou taak om aan te gee. Die Gees se lig is nie ’n flitslig wat net enkeles se pad verhelder nie – dit is ’n sonstraal wat ’n hele omgewing verhelder waar dit versprei word.
💭 Dink vandag: waar kan jy ’n ligdraer wees? Wie het dalk lig nodig? Deel dit uit - dalk is dit in 'n getuienis dat God vir jou goed is; dalk in deernisvolle luister wanneer iemand hul donker met jou deel?
👉 Môre: Hoe troos die Gees jou wanneer jy gebroke voel?

