GOD, MET LEWENDE ASEM

GEESKRAGTIG

2 – GOD, MET LEWENDE ASEM (2 Junie)

⁠ 🏋️ Geeskrag: Net die Gees van God kan dooie gebeentes laat dans. ⁠

Toe Esegiël na die vallei van doodsbeendere kyk, was dit ’n toneel van absolute hopeloosheid. Maar God sê: “Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe”. (Esegiël 37:9)

Die Gees is soos ’n wind wat die verdorde Knersvlakte in ‘n bloeiende Tuin van Eden kan verander. Hy vul jou die leegheid wat jou soms oorweldig. Die Gees bring beweging waar jy vasgeval voel. Hy herstel hoop waar jy uitsigloos word. Sonder die Gees word die lewe geleef met boeie om die bene. Terwyl die Gees juis die “dans van nuwe lewe” beloof. Die Gees is nie ’n teorie nie – Hy is ’n lewende asem wat jou dra en jou geloof laat beweeg.

👏 Heilige Gees, blaas U asem oor my eie doodsheid en vul my met U lewe. Bring aan my die lewe wat U beloof.

🕰️ AS JY MEER TYD HET:

•⁠ ⁠Lees : Esegiël 37:1–14; Johannes 3:5–8; Handelinge 2:1–4.

Die beeld van wind en asem is radikaal: jy kan dit nie beheer nie, jy kan dit nie vasvang nie, maar jy kan dit ervaar. Jesus sê: “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.” (Johannes 3:8). Die Gees werk presies so – onverwags, onbeperk, en dikwels op plekke waar jy dit die minste verwag.

⁠💭  Dink vandag: watter “doodsbeendere” lê in jou lewe? Waar het jy hoop verloor? Die Gees van God is die enigste krag wat daardie beendere weer kan laat lewe. Hy bring nie net asem nie, maar beweging – Hy laat die doodsbeendere dans.

👉 Môre: Hoe bring die Gees lig in donker?