ADVENT WEEK 3: Wag met Vreugde
📖 – Filippense 4:4 – “Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle!”
💡- Vreugde is nie ‘n emosionele gevolg van ons omstandighede nie; dit is ‘n geloofsopdrag, ongeag ons omstandighede.
Kyk mooi! Paulus gee hierdie woorde nie vir ons as ‘n voorstel of ‘n keuse nie. Dit hang ook nie van voorspoedige omstandighede af nie. Paulus skryf dit as ‘n opdrag. Herhalend. Met uitroeptekens.
Om met vreugde te leef is ‘n geestelike dissipline waar ons inoefen om ons gedagtes op Christus te fokus – of ons nou hoog op die bergtop staan, of diep onder in die donker vallei. Paulus leer ons dat ons geloof ons omstandighede bestuur en nie andersom nie. Die trane mag dalk op hierdie oomblik oor my wange loop, maar ek wéét: “Die Here is naby” (aldus Fil 4:5).
🪜- Kies doelbewus om vandag etlike kere jou dagprogram te onderbreek en God eers hardop te loof vir Sy onveranderlike getrouheid. Neem hierdie opdrag ernstig op as ‘n daad van gehoorsaamheid.
🙏 Heilige Gees, ek kies om U opdrag te gehoorsaam om blydskap my “default” te maak. Leer my hoe om dit te doen.

