‘n Goeie vriend van my gaan werklik deur ‘n moeilike tyd. Met hom in gedagte skryf ek, wetend dat hier ander lesers is wat ook swaar dra aan hul lewenspakkie. Soms voel ons in oomblikke van beproewing regtig alleen. Of dit gesondheidsuitdagings is, verliese of bloot die vuisvoosheid van die lewensbranders wat ons teen rotse slaan, ons almal ken dit. Ons almal ken tye waar ons smag na verkwikking, omdat ons ‘n doodse moegheid in ons ronddra. Iemand het eenmaal gesê dat God in die onstuimigste harte die tuisste is. Of, soos C.S. Lewis gesê het: “God fluister in tye van vreugdes, God roep uit in tye van pyn, maar lyding is die luidspreker waarin God die duidelikste gehoor word.”
Dwarsdeur die Bybel ontvang ons beloftes dat ons nie op ons eie krag hoef staat te maak nie, maar dat ons vanuit die Gees se goddelike krag kan leef. So klink een van die beloftes van God dat Hy “nuwe krag gee aan dié wat moeg is, die moedelose weer vol moed maak” (Jer 31:25).
‘n Ander bekende belofte is opgeteken in Jes 40:29-31: “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. … dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Dit is ‘n lieflike loflied, maar dit bly net woorde totdat jy dit self ervaar. Soos die kerkvader Augustinus gesê het: “God se goedheid word net met oop hande ontvang.”
Dalk is jy ook een wat vandag smag na die bemoediging van God se liefdevolle teenwoordigheid. Mag jy in jou tyd van beproewing die kragtige werk van God se Gees beleef, wetend ons het ‘n “Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee” (2 Kor 1:3).
GEBED: Mag U vandag iedereen wat hulp nodig het bemoedig met krag en hoop.
KUNS: Holman Hunt’s se skilder “Die Lig vir die Wêreld”
MUSIEK:
Ons kyk vandag na die liriek-video van Lauren Daigle se lied “Light Of The World”.