Die Gees en Gebed

GEESKRAGTIG

6 – Die Gees en Gebed (8 Junie)

🏋️ ⁠ Geeskrag: Die Gees is God se megafoon wat jou fluisteringe tot by God se oor dra. ⁠

Gebed is nie altyd maklik nie. Daar is tye wanneer jy nie woorde het nie, of wanneer jou hart net stil sug. Paulus skryf: “Ons weet nie wat ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.” (Romeine 8:26) Die Gees is soos ’n sagte megafoon – Hy vat jou fluisteringe, jou trane, selfs jou stilte, en dra dit reguit tot by God se oor. Jou gebed raak nie verlore nie, want die Gees versterk dit sonder om dit te verdraai. Hy maak jou klein stem groot genoeg om die Vader se hart te bereik.

👏 Gees van God, dra my fluisteringe tot by die Vader en vul my stilte met U stem.

🕰️ AS JY MEER TYD HET:

•⁠ ⁠Lees : Romeine 8:26–27; Psalm 42:1–11; Efesiërs 6:18.

Die Gees se gebed is nie net noodhulp nie – dit is ’n voortdurende versterking van jou geloof. Efesiërs 6:18 sê: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. ” Die Gees is soos ’n vertaler wat jou stilste sug in God se moedertaal omsit. Hy neem jou gebed – hoe gebroke of onvolledig ook al – en maak dit verstaanbaar en kragtig in die hemel.

⁠💭  Dink vandag: Watter gebed het jy opgehou bid omdat jy gedink het dit is te klein of te swak? Laat die Gees dit dra, vertaal en vul met God se liefde.

👉 Môre: Hoe gee die Gees jou krag om te getuig?