Vastyd is ’n pelgrimsreis van 40 dae wat altyd op ’n Woensdag begin (Aswoensdag) en op ’n Saterdag (Donkersaterdag/Stil Saterdag) eindig. Hierdie boek fokus op ’n metaforiese pelgrimsreis wat by “ashoop” begin en 40 dae later by “hoop” eindig en vra die volgende vrae:
Hoe skud ’n mens jou “valse self” af?
Hoe laat jy emosionele bagasie agter?
Hoe leef ’n mens met hoop in ’n wêreld wat al minder hoopvol lyk?
Hoe word jy ’n vrygewiger mens?
Hoe daag jy ’n verbruikerskultuur uit?
Is dit moontlik om ’n vry, hoopvolle en gelukkige mens te wees?
Drie spesifieke geloofsgewoontes was deur die eeue heen verbind met hierdie tyd: vas, gebed en die gee van aalmoese. Die boek vertaal die drie gewoontes as moderne “reisgenote” op die hartsreis tussen Ashoop en Hoop.
Hierdie is ’n boek wat jou help om ’n deurdagte pelgrim te wees, wetend waar jy vandaan kom en waarheen jy op pad is.
Hoewel die gedrukte formaat tans uitverkoop is, kan jy die boek digitaal op Amazon koop.
In Woestynwysheid volg Ronelle Bezuidenhout op die hakke van twee skrywers wat onlangs onderskeidelik met die Andrew Murray-Desmond Tutu- en die Desmond Tutu-Gerrit Brandpryse vir Suid-Afrikaanse christelike skryfwerk bekroon is. Denise Ackermann (Surprised by the man on the borrowed donkey) en Lisel Joubert (Ontmoeting met heiliges) gaan, soos Bezuidenhout, terug na die wortels van die Christelike geloof.
Vir Ackermann help die woestynwysheid (van die woestynmense) “to clear the clutter that clouds my vision”. Ook Joubert bied ‘n breë oorsig oor ‘n verskeidenheid geskiedkundige figure wat van die sogenaamde woestynvaders en -moeders insluit.
Al drie hierdie vroue sal saamstem met die teoloog Karl Rahner (soos aangehaal deur Bezuidenhout): “Die Christendom van die toekoms sal misties wees, of sal glad nie voortbestaan nie.”
Bezuidenhout se boek is geskryf na twintig jaar se eie soeke en beoefening van kontemplatiewe spiritualiteit. Dit getuig van ‘n wye belesenheid breër as net die Christelike tradisie en ‘n gemak daarmee om met ander tradisies om te gaan en daaruit te leer. Eerder as intergeloofsgesprek is hier dus plek-plek van interspiritualiteit sprake waar dit om geloofservaring gaan en nie net op dogmatiese verskille konsentreer nie. Tog bied Bezuidenhout begronding wat dieper strek as die oppervlakkige vermenging waarmee popspiritualiteit se selfhelpboeke soms vorendag kom.
Die boek is gerig aan postkerklikes. Op verteltrant word praktiese raad gegee hoe om die kontemplatiewe in ‘n kontemporêre leefstyl te probeer integreer – nie ‘n maklike opdrag nie! Bezuidenhout self is nie bang om nogal streng dissipline vir haarself op te lê nie, byvoorbeeld om soggens vieruur op te staan. Dit mag vreemd op die oor val vir gesinne wat ook daarna strewe om iets van die “woestyn” se stilte, eenvoud en afsondering in hulle lewens in te dra. Maar moenie te gou tou opgooi nie; daar word ook alternatiewe opsies aangebied. Ek het die riglyne vir die opstel van ‘n lewensplan vir ‘n ver-een-igde lewe sinvol gevind.
Bezuidenhout noem dat mense haar dikwels vertel hoe moeilik stilte vir hulle is, hoe bedreigend dit kan wees om met jou “binne-geraas” gekonfronteer te word, maar hoedat dit eintlik ‘n hulpmiddel is in jou fokus op God. Hier stem sy ook met Ackermann saam dat hunkering die basiese vertrekpunt vir die reis met God is, “die woord wat by herhaling in die geskrifte van ons geloofsouers gebruik word”.
Woestynwysheid is ‘n intense boek vir stadig deurwerk. Die “Vir jou eie nadenke”-gedeelte aan die einde van elke hoofstuk help met die vaslê van inligting sowel as die inoefening van die stof. So kry jy ook inskrywings uit die skrywer se dagboek onder die hofie “Stoepkuiers” saam met bloginskrywings. Die aanvanklike kursusformaat waaruit die boek tot stand gekom het, kon met ‘n effens sterker redakteurshand beter eenheid bereik het. Die vloei van die bladuitleg het my verder hier en daar gepla.
Bezuidenhout probeer woorde gee aan die taal van die hart en om die onbeskryfbare te beskryf. Sy doen dit boonop in Afrikaans wat nog selde hierdie ervarings probeer verwoord het. Sy verwys na die direkte verweefdheid tussen die ontmoeting met God en die ontmoeting met jouself, saamgevat deur die hofie: “Om jouself te ontdek is om God te ontdek”. Dit word teenoor die “vals self” gestel waarvan ons vanaf Sondagskooldae as die “eie ek” geleer het.
Die boek het my op verskillende vlakke gekonfronteer. Dit is een vir herkou en integreer in ‘n leeftyd se inoefening. Maar dis ‘n pad van gestrooptheid wat via die woestyn tot verdieping en wysheid lei.
Hierdie resensie deur Laurie Gaum het oorspronklik op LitNet verskyn.
Hoewel die gedrukte formaat tans uitverkoop is, kan jy die boek digitaal op Amazon koop.
Ronell het bydraes tot die boek gelewer.
Vele gewone en diep spirituele mense is deesdae huiwerig om te bid, omdat hulle godsbegrip besig is om ’n ingrypende verandering te ondergaan, weg van die opvatting van God as ’n Persoon; ’n Hemel-Vader met wie ons ’n liefdevolle verhouding kan hê en wat gebede aanhoor – maar dit nie altyd verhoor nie!
Saam met die Westerse denke en wetenskap het ons begrip van God meer abstrak begin raak. In Kom Ons Bid vertel sewe bekende skrywers hoe Christene op ander tye in die geskiedenis gebid het en wat ons daaruit kan leer. Daarin word ’n nuwe sin vir gebed vandag ontdek, dat gebed in die eerste plek die gemeenskap van die gees met God is, wat ons geestelike lewe voed – en nie ’n pleidooi om gunste en gawes nie.
Was my lewe maar 'n somervakansie is 'n dagstukkieboek vir tienerdogters. Tans uit druk.
Die Leefstyl-Bybel vir vroue was 'n eerste in Afrikaans. Die teks van die 1983-Bybelvertaling is toegelig, spesiaal vir vroue, met insiggewende kommentaar oor Bybelse gebruike, gebeure, uitsprake en voorskrifte. Die kommentaar is onder meer geskryf deur bekende en vooraanstaande Suid-Afrikaanse vroueteoloë vir vroue wat eg en stylvol gelowig wil leef - en vir mans wat belangstel wat die Bybel regtig oor vroue sê. Ronell het hiertoe bygedra. Die Bybel is tans uit druk.
Kopiereg © 2024 Ronell Bezuidenhout
Klik vir meer oor beskerming van persoonlike inligting
Primêre foto's van Pixabay en Unsplash.
Ons webwerf aktiveer koekies op jou rekenaar, slimfoon of tablet. Jy aanvaar die gebruik van koekies deur ons webwerf.