#Ek is … 28 Feb.

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh 15:5)


Die oorsprong van die borrelende fontein is daar waar Moses by die brandende braambos die “ EK IS WIE EK IS”-HERE (in Eks 3) ontmoet het. So het die stroom gevloei tot by die Een wat sy dissipels kon vra: “ Wie sê julle is Ek?” (Matt 16:15). Die stroom het ons geneem tot by Petrus wat op die strand gehoor het, dat hy soos die Een moet word wat hy self volg; een wat die kudde moet liefhê soos hy die Opgestane liefhet (Joh 21:15 e.v.). Die stroom het ons geneem tot by Saulus wat voor die verblindende Lig moes buig en vra: “ Wie is U, Here?” en die antwoord kom: “ Ek is Jesus … dit is vir My wat jy vervolg” (Hand 9:5).

En telkens moes ons onsself ook afvra, maar wie is ons dan? Is ons wie ons bedoel is om te wees: verteenwoordigers van die Lewende God? Want enigiets anders as dit, is vals. Slegs daar kan ons ons ware identiteit ontdek en omhels.

In Johannes 15:5 sê Jesus: “Ek is die ware wingerdstok, julle die lote.” Hierin lê die sleutel van ons identiteit. Ons kan eers wees wie ons moet wees as ons “in Christus” is. Soos Henri Nouwen geskryf het, “ Your identity as a Christian is not based on your achievements, but on your union with the ‘I AM’ . He is your life, your purpose, your existence. ” Of dan soos Paulus sou skryf, “Uit U en deur U en tot U is alle dinge” (Rom 11:36). Ek ook. Jy ook.

Ons kan eg onsself wees, nie in ons eie krag nie, maar in Hom wat die volle lewe is. Dit is die wonder van ons Christelike identiteit.

Ek laat jou teen die einde van hierdie reeks met ‘n GEBED wat deur Thomas Merton geskryf is:

I am not who I once believed,
Not the false face I used to wear.
I am a child, I am received,
In His love, beyond compare.

No mask to hide behind today,
My soul revealed in His pure light.
In the “I Am,” I find my way,
My identity, my true might.

Dankie dat jy hierdie geloofsreis in Februarie saam met my gereis het.
Soli Deo Gloria!


Dankie dat jy dit sal oorweeg om ‘n donateur van hierdie bediening te word. Dankie ook aan elkeen wat dit reeds is. Sou jy iets wil gee, is my besonderhede: STANDARD BANK; BANKKODE: 051001; REK NO: 080042805; REK NAAM: RM Bezuidenhout. My waardering is groot!

MUSIEK

Soos wat ek daaglikse meditasies skryf vir gelowiges wat reeds deur die meule van die lewe gemaal is, so wil ek ook musiek plaas wat nie as bloot “lig en lekker” evalueer moet word nie. Daar is genoeg “gospel”-musiek in die mark, my doelwit is om musiek te plaas waaroor ons diep kan nadink. Een so ‘n lied is hierdie Bizanteinse dreunsang: “Blessed are you, o Lord. Teach me your statutes.” ‘n Gebed wat ons daagliks sou kon saam sing.

Die lirieke verskyn in die video. Die solis is ‘n Grieks-Ortodokse priester, Vader Apostolos Hill.