Ek is … 21-23 Feb. (Naweek)

“Ek (die Verbondsgod) gee my wet in julle binneste en skrywe dit op julle hart.” (Jer 31:33)


Hosea 9 beskryf ‘n klaaglied van God oor sy verbondsvolk. Van die begin af was daar vir God se uitverkore volk net een opdrag: leef heilig, sodat die buurvolke die Heilige God deur julle kan leer ken. Daarom, “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev 11:24, e.a.).

Om so afgesonder (heilig) vir God te kan leef, het God aan hulle riglyne (die wet) gegee. Maar telkens het hulle daarvan afgewyk. Toe maak God ‘n ander plan – die keer skryf God dit nie op twee kliptafels nie; ook nie met ink op perkamentpapier nie, maar wel met die “Vinger van God” in die harte van mense. Nooit sal God se mense ooit weer hul rug op God kan draai nie.

Eeue later skryf Paulus (in 2 Kor 3:2-3) aan die gemeente van Korinte: “Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, …nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.” Net deur na hul lewens te kyk, kan mense deur hulle die stem van die lewende God hoor! “So spreek die Here…”

Vir eenmaal is dit goed as iemand vir ons sê, “jou lewe is ‘n oop boek.” Maar die vraag is, wat lees hulle daarin? Oor elke bladsy van jou lewe moet daar staan: “die Gees van die Lewende God bestuur my lewe.”

Êrens tussen 150-250 nC het iemand ‘n brief oor die Christene aan ene Diognetus geskryf: “Hulle is anders as ander mense. Nes al die ander praat hulle ook Grieks, dra dieselfde klere, eet dieselfde kos, … maar hulle illustreer aan ons hulle wonderlike belydenis deur hul unieke leefstyl. … Hulle het alle mense lief, en tog word hulle vervolg. Hulle seën diegene wat hulle skade aandoen…” Dieselfde en tog so anders!

Mag ons vandag onthou:
Ons is… “aanbevelingsbriewe (van Christus) vir almal om te lees en te verstaan (v2).

GEBED: Mag my lewe en belydenis vandag ooreenstem, Here.


MUSIEK

Herhalend skryf Paulus in 2 Kor 3 dat transformasie die werk is van die Heilige Gees. In hierdie Taizé lied – Veni Sanctus Spiritus – word ‘n gebed gesing dat die Gees sal kom en ons lewens sal aanraak. Die Engelse lirieke verskyn in die video.