#Ek is … 20 Feb.

“Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik” (1 Joh 4:12).


Hoe het ‘n mens ‘n verhouding met iemand wat jy nie sien nie? Wonder jy soms daaroor? Petrus het ook hieroor gedink, want so verduidelik hy: “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Pet 1:8-9).

Van al die skrywers is dit Paulus wat die meeste hieroor skryf – “in Hom”, “in die Here,” “in Christus”. 164 maal praat hy daaroor. John Stott verduidelik: om “in Christus” te wees, beteken nie om binne-in Christus te wees, soos gereedskap in ‘n gereedskapskas, nie. Dit beteken om organies met Christus verenig te wees. Soos ‘n ledemaat aan ‘n liggaam, of ‘n tak aan ‘n boom. Eers as jy “in Christus” is, kan jy ‘n persoonlike verhouding met Christus begin vorm.

Petrus sê iets gebeur met jou as jy “in Hom” is: ‘n heerlike blydskap oorval jou. Augustinus sou sê, jou soeke kom tot rus. Die lewe maak skielik sin – ten spyte van die omstandighede. Alles in jou kom tot bedaring. Want, immers belowe Jesus self: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh 6:35). Jou verlange is versadig.

Ek is … die een wat eerste aangeraak is, daarom kan ek “in Hom” leef.
Ek is … die een wat liefgehê word; daarom kan ek ook liefhê.
Ek is … die een wat versadig is, daarom kan ek gee.

GEBED: Dankie Here dat ek vandag mag weet, ek is ‘n aangeraakte! U hand rus op my.


MUSIEK

Die lied wat ek graag sou wou speel, is die een van wyle Annelise Wiid, “Raak aan my.” Ongelukkig kon ek dit nie vind nie, daarom plaas ek hierdie een van haar: “Geseën om te seën.” Dit is net so gepas vir vandag se tema: aangeraak en verander. Die lirieke verskyn in die video.