Al Psalmend  3 (19 Nov)

“Skaars het ek na Hom geroep, of daar was reeds ‘n loflied op my lippe. ” (Ps 66:17).

*****

‘n Vriendin van my se pa het altyd gesê: “Ek kan eers begin kla nadat ek al my seëninge opgenoem het.” Almal van ons het geweet dat sy lewe nie maanskyn en rose was nie: vroeg in hul huwelik is sy vrou oorlede, hy is agtergelaat met ‘n dogter (my vriendin) wat hy alleen grootgemaak het.  Na my vriendin se egskeiding het sy en haar twee voorskoolse seuns weer by haar pa gaan woon. En daar het die grootste ramp gebeur: een van die seuns het in hul oupa se swembad verdrink. Dit was een van die pynlikste begrafnisse wat ek ooit moes hou! 

Die oom het ‘n mannerisme gehad om bykans elke sinnetjie te begin met, “Kom laat ek jou nou vertel…” Ek dink nou aan die oom omdat ek die woorde in Psalm 66:5 lees: “Kom hoor wat God gedoen het, kom hoor …” Later volg die uitnodiging weer: “Kom luister, … ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het” (v16). O ja, daar was pynlike dinge: “U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer; …ons het deur vuur en water gegaan” (v10-12). Maar, dit is asof Dawid ook sê, laat ons net eers ons seëninge tel. En wat is die grootste seëning? Dawid antwoord: “Skaars het ek na Hom geroep, of daar was reeds ‘n loflied op my lippe” (66:17). Wat ook al gebeur, God was daar! Soos Hebreërs 12:11 ook sê: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God” (Heb 12:11).

GEBED: Mag lof ook die eerste op my lippe wees wanneer ek U aanroep, my HERE.

MUSIEK:

Ons luister na ’n lewendige opname van  “Come and See (Psalm 66)” deur die bekende Psalm-musikante Shane & Shane.

Come and See (Psalm 66) (Live)