Die meeste antieke kulture deel mitiese verhale van mense wat in opstand kom teen die godedom omdat hulle – die mense – nie (soos die gode) onsterflik is nie. Maak nie saak hoe mense daarteen rebelleer nie, doodgaan gaan ons dood. Elke Aswoensdag herinner ons hieraan: stof is jy en tot stof gaan jy terugkeer (Gen 3:19.) Maar, anders as met die antieke mites is dit nie iets wat ons met skaamte en rebellie laat nie; nee, dit nooi ons eerder uit om ons menslike broosheid met nederigheid te omhels. Die Christelike reis is een wat ons uitnooi om ons breekbaarheid en kwesbaarheid te erken op die pad na werklike genesing. Was dit net as wat op ons voorhoof was, dan was dit ‘n simbool van onveranderlike doodsheid. Maar nou is dit ‘n kruis in as – die simbool van God se genade.
Vir God sal ons nie eers aanvaarbaar wees wanneer ons die status van “demi-godjies” (of “soort-van-heilig”) het nie. Ons is reeds! Danksy die askruis op ons voorhoof. Maar ons weet ook: waar God ons vind, daar laat God ons nie maar net staan nie. God is die God van vernuwing!
En dit is waar die Latynse woord ” renovaré ” help. Hierdie is die woord waar die Engelse “renovation” vandaan kom. Dit is meer as net ‘n bolangse nuwe verflagie gee. ” Renovaré ” is dít wat Esegiël in die vallei van doodsbeendere gesien het: totale doodsheid wat weer lewe (Eseg. 37). ” Renovaré ” is God se “besigheid”. En dit is waarheen hierdie Lydenstyd se geloofsreis ons wil neem: nie op pad na selfverbetering nie, maar na vernuwing!
Dit begin daar waar ons met die as op ons voorkop staan: gebroke. Hartstogtelik onherstelbaar en volkome verniel. Maar, soos Jesus (o.a. in Markus 2:17) gesê het, dit is die sieke wat sal baat vind by ‘n doktersbesoek. En daar vind ons die kruis.
Mag jou Lydenstyd vir jou ‘n ” renovaré”-reis” wees. Dit bid ek vir jou.
GEBED: Genees my, Groot Geneesheer, en begin reeds vandag.
MUSIEK:
Die musiekkeuse van vandag val op ‘n Engelse gesang geskryf deur Chris Tomlin, “Ashes.” Hierdie lied word veral gesing op Aswoensdag en word uitgevoer deur die sg, “Sunday7Choir.” Die lirieke verskyn in die video.