4 Maart – RENOVARÉ

More begin ons Lydenstydreis – ‘n 40 dae reis wat ons saam met Jesus deur die woestyn onderneem, op pad na die donkerte van die dood. Het mense in hierdie tyd dalk al vir jou gevra: “Wat gee jy prys vir/in Lydenstyd/Lent?” Die beste antwoord hierop het ek êrens raakgelees: “Lent is not a time for self-denial, it is a time for self-discovery.” Om vir 40 dae sjokolade prys te gee mag dalk goed vir jou gesondheid wees, maar wat ontdek jy in die proses van jouself? Meer nog, wat ontdek jy van God? Hoe laat dit jou liefde vir jou naaste toeneem?

Ja, vas is een van die geloofsdissiplines in Lydenstyd (en ons gaan nog baie daaroor gesels), maar vas wat nie lei tot bekering nie, is waardeloos. Die doel van prysgawe is om te reageer op die pleidooi van die HERE: “Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe…” (Joël 2:12-13a).

Wat in ons daaglikse roetine verblind ons om God raak te sien? Watter gewoontes skaad ons verhouding met ons medemens? Hoe toegeknyp is ons hande waarmee ons die genade van God nie aan ander uitdeel nie? Met watter onuitgesproke (en selfs onwetende) vrese leef ons, wat ons die sentrum van ons eie bestaan begin maak? Juis daarom is die geloofsgewoonte van vrygewigheid so belangrik – want, dit leer ons om op God te vertrou.

Selfontdekking is goed, maar as selfontdekking my nie na God toe keer nie, is selfontdekking niks anders as ‘n ego-reis nie. Egte selfontdekking en gebed loop altyd hand-aan-hand, want dit eindig in ‘n pleit: “Wees my arme sondaar genadig!”

‘n Vriend van my sê altyd: “What you prepare for is what you get.” Dalk is dit die vraag wat ons vandag na ons binnekamer moet neem: wat wil U verander, Here?

GEBED: Ek wil ontdek wat U reeds weet, my Here.

Musiek

Van die mooiste lydingsmusiek is die verskillende verwerkings van die bekende “Kyrie Eleison.” In die volgende 40 dae gaan dit ook ‘n gereelde musiekkeuse van ons wees. Hier sing die St Albert Katolieke Kerkkoor uit Benin ‘n weergawe soos gekomponeer deur ‘n plaaslike komponis, Vincent Ihaza.