God seën ons nooit met die minimum genade nie; God gee wel aan ons volgens ons verwagtinge. Of dalk moet ons dit so stel: met die mate wat ons onsself vir God se goedheid oopstel, in daardie mate word ons met goedheid oorweldig. So werk dit byvoorbeeld met die vrug van die Heilige Gees: die Gees is in sy totaliteit oor ons uitgestort, maar afhangende van hoeveel ons onsself onder heerskappy van die Heilige Gees plaas, in soortgelyke mate dra ons die vrug van die Gees in ons lewe. Ek kan dit in nog meer teologiese taal verduidelik: dat ons sonder enige toedoen van ons eie in die regte verhouding met God kan staan (wat ons regverdiging noem), sê alles van wie God (bv. die Genadige, Liefdevolle en Barmhartige) is. Maar, in watter mate ons vehouding met God verdiep (wat ons ” heiligmaking ” noem), dit sê iets van onsself.
Oor twee dae begin die belangrikste seisoen in ons kerklike jaar: Lydenstyd. Vir 40 dae gaan ons fokus op drie woorde (en ek noem dit nou in Engels net ter wille van die lekker alliterasie) – “reflection”, “repentance” en “renewal.” Of dan, nadenke, berou en vernuwing.
Die Latynse woord wat hierdie beginsels saamvat is ” Renovare “. (Waar die Engelse “renovations” sy oorsprong het.) Dit is nie maar net om foutjies in ons mondering te “panel beat” nie; nee, dit is om volledig van-voor-af te begin. Her-skepping. Dit is wat God wil doen. Die vraag is, of ons wil hê God dit moet doen?
Dink dus vandag hieroor na: na watter vernuwing in jou eie lewe smag jy? Watter ou gewoontes hou jou terug van ‘n lewe vol vreugde? Watter onrus kan daar in jou hart skuil? Van watter ou paaie wil God jou teruglei, as jy hierdie gebed van Dawid vandag bid:
“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Psalm 139:23-24).
MUSIEK :
Die Vox Kamerkoor van Pretoria sing vandag vir ons “Deurgrond my”. Hierdie verwerking van die Psalmwoorde is deur Franco Prinsloo.
https://youtu.be/lJC6bEXrpWM?si=CHDvVEv2_O719abR